Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 26 APRIL 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

PRESIDENTSREDE GISTER

JAARLIKSE SARL-TOEKENNINGS

PUBLIKASIE VAN GEWYSIGDE RADIOREGULASIES BINNEKORT VERWAG

2009 SE RTA-PROGRAM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PRESIDENTSREDE GISTER

Hier volg ‘n verkorting van die toespraak wat Rassie, ZS1YT, gisteraand tydens die Nasionale Konvensie van die SARL het.
Rassie het daarop gewys dat die SARL vanjaar sy 85ste verjaardag vier en dat die SARL gedurende die 85 jaar by baie kruispaaie te staan gekom het, maar gelukkig het ons voorvaders altyd daarin geslaag om die regte besluite te neem en ons stokperdjie in die regte rigting te stuur. Een resultaat is dat ons vandag ‘n wye reeks frekwensies vir gebruik beskikbaar het.
Rassie het gesę dat amateurradio ‘n omvattende stokperdjie is wat baie moontlikhede vir eksperimentering oor ‘n wye veld bied soos van toerusting bou tot nuwe modusse uittoets.
Hy het aangetoon dat ons weer by ‘n kruispad staan en het gevra of elke radioamateur die SARL sal ondersteun om die pad te kies wat amateurradio in die toekoms moet volg. Hy het aangedui dat ons tans met baie selfvoldaanheid te doen het en dat baie die opvatting huldig dat waarom sal hy iets doen wanneer andere dit vir hom sal doen? Dit is ‘n gevaarlike houding.
Ons is teen hierdie tyd bewus dat die ANC vir die volgende 5 jaar die land sal regeer en hulle sal beleidsbesluite wat met hulle Polokwanekongres geneem is implementeer waarvan een is:
Die ANC en sy regering behoort te verseker dat die toekenning van spektrum – wat ‘n skaars nasionale publieke hulpbron is – moet bydra tot die bevordering van nasionale belange, ontwikkeling en diversiteit. Dit moet behels uitbreiding aan die hoeveelheid spektrum en lisensies toegewys vir publieke gebruik; soos byv. gemeenskapsradio en TV en mobiele tegnologieë Die frekwensiespektrum wat aan amateurradio toegeken is, moet duideliik bydra tot Nasionale belang.
Die frekwensiespektrum wat aan amateurradio toegeken is moet heel duidelik bydra tot Nasionale belang.
‘n Senior amptenaar van die Departement van Kommunikasie het ‘n rukkie gelede gesę dat amateurradio in die kategorie van gemeenskapradio val aangesien ons HAMNET se noodkommunikasieaktiwiteit ‘n reuse bydrae tot die gemeenskap maak wanneer dit die meeste benodig word.
Rassie het gesę dat ons niks anders hoef te doen as wat ons reeds doen om die beleidsbesluit te voldoen nie, maar, ons moet net meer daarvan doen. Dus, vir die volgende jaar:
 Brei ons aktiwiteite uit ten einde ‘n beter begrip van wat amateurradio is tuis te bringen hoe dit bydra tot die land, nie net in terme van noodkommunikasie nie, maar ook die waarde in die klaskamer om groter belangstelling in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te kweek.
 Gaan voort met eksperimentering in nuwe tegnologieëen dra by tot die land se stoor van kennis.
Drie programme wat hierdie items direk aanspreek is:
Die publieke inligtingsnetwerk
Die Radiotegnologie-in-Aksieprogram;
Die amateurradioseminaar vir publieke amptenare.
Rassie vra dat ons bywoning van die RTA’s verhoog en dat ons die publieke inligtingsnetwerk ondersteun. Terwyl al die beplanning vir op die lug aktiwiteite soos vir die 2010 Węreldbekersokker en die IARU Streek 1 konferensie in 2011 aan die gang is, doen hy ‘n beroep op alle radioamateurs deur by die Nasionale Liggaam vir amateurradio aan te sluit en van u tyd en kundigheid af te staan om die programme te laat werk. Hy sę hy is seker dit is die regte pad en vra kan hy op u staatmaak?

JAARLIKSE TOEKENNINGS DEUR DIE SARL

Tydens die dinee gisteraand is erkenning verleen aan individue en klubs vir dienste gelewer aan die gemeenskap of amateurradio en prestasies behaal in kompetisies deur die toekenning van trofees ens. soos hier onder genoem.

Lewenslange erelidmaatskap, die SARL se hoogste eerbewys aan:
Henry Chamberlain, ZS1AAZ.

Willie Wilson Goue Kenteken aan Francois Botha, ZS6BUU, vir sy werk as Hamnetbestuurder maar ook vir sy ondersteuning aan die SARL-kantoor.

Jack Twine Verdienstelikheidstoekennings aan:
ZS4TX
ZS4U
ZS4S
ZS4JAN
Die toekenning is vir die werk wat hierdie amateurs gedoen het met die oprigting van die ZS9X-kompetisiestasie en die internasionale reputasie wat dit verwerf het.

Icom Voortreflikheidstoekennings aan, die tweede hoogste toekenning van die SARL.
2008 - Andre Botes, ZS2AC, and Paul Smit, ZS6NK, vir hulle werk aan 4 m metoorspreiding – hulle het die eerste 4 m MS QSO buite Europa gemaak en het ‘n MS-rekord en afstandrekord opgestel.

Die Presidentstoekenning aan Bert Howes, ZS6HS, omdat hy al meer as sewentig jaar lid van die SARL is. ’n Goue pen sal tydens die eerskomende RTA by die NARS aan hom oorhandig word..

Hamnetskild, ‘n nuwe toekenning, aan Glenham Duffy, ZS5GD, vir sy ondersteuning aan 84 Seineenhede, HF-herleidings, hulp met bedryf van die Gesamentlike Bedryfsentrum in Durban en die sleutelrol wat hy vervul het met die onwikkeling van Hamnetopleidingsmodules.

Die Arthur Hemsley 2 m-bedryfstrofee vir buitengewone prestasies op AMA of modusse soos troposferiese voortplanting. Dit is nie vir die langste afstand bereik nie, maar eerder vir volharding om iets spesiaal op 2 m te bereik aan Glenn Kraut, ZS2GK, vir sy prestasie met die kontak met Philippe Mondon, FR5DN.

Joseph White Plaket vir buitengewone prestasie in die 70 cm band aan Willem Badenhorst, ZS6WAB, vir sy AMA- en Tropo-aktiwiteit.

Bert Buckley Sesmetertrofee aan Paul Smit, ZS6NK, vir sy QRP- (100 W en enkel-Yagi) 6 m QSO met W7GJ dmv. 6 m AMA.

Radio ZS-skild aan Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, vir sy ondersteuning aan Radio ZS gedurende die jaar.

JJ Pienaartrofee aan Vidi La Grange, ZS1EL, vir sy artikels in Radio ZS, oor veranderings aan die “Force 12”-antennas.

Gary Immelman Radioamateur Erfeniswisseltrofee met ‘n goue pen vir die beste artikel van ‘n historiese aard aan Dennis Wells, ZS1AU, vir sy reeks artikels in Radio ZS: “These Really were the Good Old Days”

Arland Ussher Goue Pen aan Carol Defty, ZS1MOM, vir haar gemiddeld van 95% behaal in die Mei 2008 RAE.

SARL HF-kompetisietoekennings:

Die volgende wisseltrofees word tans jaarliks tydens die SARL se AJV toegeken. Hulle word toegeken aan die wenners in die verskeie kategorieë van die jaarlikse SARL-HF-kompetisies.

Stil Sleutel-gedenktrofee in die ESB-kategorie aan Gary Potgieter, ZS5NK.

Stil Sleutel-gedenktrofee in die GG-kategorie aan Hans Kappetijn, ZS6KR.

Joseph White Trofee vir die hoogste telling behaal in enige enkel band gedurende die HF-foonkompetisie aan Jan Botha, ZS4JAN.

Fred Mills Trofee aan die persoon wat die hoogste telling in die HF/GG-kompetisie behaal het maar wat nog nooit voorheen ‘n trofee in ‘n SARL-HF-kompetisiegewen nhet nie, aan Pierre van Deventer, ZS6BQS.

Anon Trofee vir die hoogste telling behaal in enige enkel band gedurende die HF-GG-kompetisie aan Vidi La Grange, ZS1EL.

HOS-trog aan die amateur wat die hoogste totale telling in beide die HF-kompetisies behaal aan Jan Botha, ZS4JAN.

Die Klubdeelnametrofee vir die klub vir die grootste deelname aan beide die HF-GG en foonkompetisies aan die Bloemfontein Radioamateurklub, ZS4BFN.

PUBLIKASIE VAN GEWYSIGDE RADIOREGULASIES BINNEKORT VERWAG

OKOSA het bevestig dat die finale konsep vir die Staatskoerant Vrydag aan die OKOSA-Raad vvorgelę is en hulle verwag dat dit gedurende die week wat op 5 Mei begin gepubliseer sal word. Die gewysigde regulasies sal die toekenning op 20 m aan die ZR-lisensiehouers korrigeer en die uitbreiding aan die 40 m-band tot 7 200 kHz bevestig. Let asb. daarop dat hierdie veranderings eers in werking tree na publikasie in die Staatskoerant.

LAASTE GELEENTHEID OM VIR DIE 2009 KONSTRUKSIEKOMPETISIE IN TE SKRYF

Die sluitingsdatum vir inskrywings vir die 2009 konstruksiekompetisie is aangeskuif tot 28 April wanneer die be-oordeling vir die tweede fase sal plaasvind. Volle besonderhede verskyn op www.amateurradio.org.za. Die hoofprys is ‘n ICOM IC-7200 HF-send-ontvanger wat ook 50 MHz dek. Die IC-7200 is die jongste van ICOM en dit bied TF DSP en baie ander funksies wat voortreflike kommunikasie moontlik maak. Hierdie prys word geborg deur Multisource Communications, die ICOM-verteenwoordiger in Suid-Afrika.

2009 SE RTA-PROGRAM SAL U ASEM WEGSLAAN

Volle besonderhede van die RTA-program is op die SARL se webwerf gepubliseer. Dit is een van die jaarlikse SARL-gebeurtenisse wat nie deur enige amateur misgeloop behoort te word nie. Die eerste byeenkoms is in Gauteng op 9 Mei by die NARS. Registrasie begin om 08:30 en die aanbiedings begin om 09:00.
Toegangsgeld is slegs R30 wat deelname in die bywoningstrekking insluit. Die hoofprys is ‘n gereedskapsak met gereedskap ter waarde van meer as R1 600 en deur RS geborg word. Verkry al die besonderhede by www.sarl.org.za of stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.co.za en ‘n kopie sal aan u gestuur word.

KOMPETISIENUUS

Die uitslae van die BHF/UHF-kompetisie wat op 21 en 22 Maart gehou is, bekend gemaak. Die kompetisiekomitee is bitter teleurgesteld in die belangstelling en deelname aan die kompetisie met slegs sewe logs wat ontvang is, hulle hoop dat daar meer logs na die Septemberbeen ingedien sal word.
Multioperateurstasie:
1ste Magalies Radioamateurklub, ZS6MRK, 21 077 punte;
2de John Vorster Tegnologiese Skool Radioklub, ZS6JVT, 4 739 punte.
Enkeloperateurstasie:
1ste Johan van Aarde, ZS2I, 2 811 punte;
2de Marius Preston, ZS4MP, 2 008 punte;
3de Tienie Herbst, ZS6MHH, 1 285 punte;
4de Bert Howes, ZS6HS, 413 punte;
5de Theunis Potgieter, ZS2EC, 165 punte.

Die eerste ZS3 Naelloop is op Sondag 3 Mei vanaf 16:00 tot 17:00 SAT met foon en GG op 40 meter op die lug. Hier is u kans om die ZS3 afdeling te werk vir die “Worked all ZS” en “All Africa”-toekennings asook vir “Chasing Maidens”. 'n RS(T)-verslag en die provinsiale afkorting word uitgeruil.

KLUBNUUS

Die Sasolburg Radioklub bied 'n jakkalsjag aan op Saterdag 2 Mei. Jagters vergader om 08:00 en die jagtog begin om 09:00. Vanaf 12:00 sal ons 'n vleisie braai, die klubvergadering volg om 15:00. Almal is welkom om te deel in die pret. Navrae aan Riaan ZS4PR by 083 581 8569.

Die Noord-Kaap Amateurradioklub gaan op 1 en 2 Mei 2009 'n veldstasie bedryf op versoek van die Noordkaapvoortrekkers wat hulle jaarlikse Vasbytkamp aanbied. Die Voortrekkers sal ook in die aande die geleentheid kry om amateurradio te ervaar, luister uit vir ZS3NC en praat met 'n voortrekker.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Tans is daar geen fisiese sonvlekke op die oppervlakte van die son nie. Ons beleef inderdaad 'n diep minimum-aktiwiteitsvlak. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van data van bestaande sonvlektellings gebruik maak en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette neig om gunstige voorspellings te bied, en moet met omsigtigheid beskou word.
Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20-m is nog steeds die beste keuse vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees.
Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan sluimer, alhoewel goeie resultate nog voor middagete verkry kan word.
Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke agv. statiese ontladings nog bietjie hoog.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 April - Laaste dag vir inskrywing vir die 2009
konstruksiekompetisie;
1 en 2 Mei – Voortrekkerkamp ZS3NC;
2 Mei – Wesrand se snuffelmark;
2 Mei – Sasolburg se jakkalsjag;
3 Mei - ZS3 Naelloop;
9 Mei - RTA by die NARS;
15 Mei - Sluitingsdatum vir die SAROT-toekenningsnominasies.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003